Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS - SONDAG 19 JUNIE 2011

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die internet by www.sarl.org.za. Klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Let asseblief op: Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

In die nuus vandag:

WETENSKAPLIKES Sê DIE SONSIKLUS RAAK DEURMEKAAR

WAT DINK JONGMENSE AANGAANDE AMATEURRADIO?

IARU STREEK 1 KONFERENSIE

SELFONE IS UITEINDELIK VEILIG

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

WETENSKAPLIKES Sê DIE SONSIKLUS RAAK DEURMEKAAR

Vir jare het sterrekundiges en ruimtewetenskaplikes voorspel dat die sonsiklus teen ongeveer 2012 na ’n maksimum sal beweeg. Gedurende hierdie tydperk sou daar baie intense fakkels en en sonvlekaktiwiteite voorkom. Nou dink hulle dat die teenoorgestelde mag plaasvind.

Newsline rapporteer dat volgens studies wat op 14 Junie in die VSA vrygestel is glo kundiges dat die huidige sonvleksiklus moontlik afwaarts beweeg en na ’n patroon van onaktiwiteit mik wat sedert die 17de eeu nie waargeneem is nie.

Volgens kundiges van die Nasionale Sonobservatorium en die lugmag se navorsingslaboratorium, sluit die tekens hiervan in ’n verlore snelstroom, vinnig kwynende vlekke en stadiger aktiwiteite naby die pole.

In ’n vergadering van die Amerikaanse Astronomiese Vereniging se Fisika-afdeling in Las Cruces, New Mexico, het Frank Hill, die Mededirekteur van die Nasionale Sonobservatorium se Sinoptiese Netwerk, gesê die feit dat drie verskillende aansigte van die son in dieselfde rigting wys dit ’n sterk aanwyser is dat die sonfakkelsiklus in hibernasie mag gaan.

Volgens Hill mag die huidige siklus 24 die laaste vir ’n tyd wees maar die volgende een, siklus 25, mag vir ’n tyd nie begin nie. Hy het bygevoeg dat dit belangrik is aangesien die sonsiklus ruimteweer ten gevolg het wat moderne tegnologie beïnvloed en tot klimaatsverandering bydra.

Lees meer hieroor by www.sarl.org.za en kies Amateur Radio Today.

WAT DINK JONGMENSE AANGAANDE AMATEURRADIO?

In ’n onderhoud met vyf jong radioamateurs tussen die ouderdomme van 1 en 17 jaar, het hulle hul menings aangaande amateurradio bekend gemaak. Dit is uitgesaai in ’n spesiale uitsending op jeugdag net voor die aanvang van die jeugdagwedloop op 16 Junie. U kan weer daarna luister op www.hamradio.org.za, die nuwe webtuiste wat die SARL met die fokus op jongmense ontwikkel.

DIE SARL SE WEBWERF

Die SARL is in die proses om sy webtuiste na ’n ander diensverskaffer te verskuif. Daar word verwag dat dit min of geen onderbrekings sal plaasvind nie. U sal egter op hoogte gehou word oor ontwikkelings en in kennis gestel word wanneer die skuif voltooi is.

LEDEGELDE NOU BETAALBAAR

Die einde van Junie kom al nader, betaal dus asb. so gou moontlik u ledegeld vir die 2011/2012 finansiële jaar. Rekenings is al ’n aantal weke gelede uitgestuur. Wanneer elektroniese oorplasings of bankbetalings gemaak word, maak asb. seker dat u naam en roepsein op die betalingstrokie of elektroniese betalingskennisgewing verskyn. Indien u reeds betaal het, baie dankie, jou voortgaande ondersteuning word waardeer.

IARU STREEK 1 KONFERENSIE

Alhoewel die SARL-Raad verteenwoordigers uit sy lede aangewys het om die SARL in die konferensie te verteenwoordig, staan dit individuele amateurs vry om die konferensie as waarnemers by te woon. Die volle registrasiebesonderhede is te vinde op www.iaru2011.org.za. Huisvesting by Sun City is beperk. Indien u graag die of die konferensie of die GAREC-vergadering wil bywoon, registreer asb. sodra moontlik, maar nie later as 24 Junie nie, aangesien huisvesting daarna nie meer beskikbaar mag wees nie.

PRYSWENNERS IN SARL-KOMPETISIES

Indien u een van di gelukkige wenners in enige van die onlangse kompetisies van die SARL is, is die goeie nuus dat die boekpryse aan die wenners gepos is. Die SARL bied verskoning aan vir die tydvertraging wat ontstaan het as gevolg van ’n tekort aan boeke wat as pryse gekies is.

SELFONE IS UITEINDELIK VEILIG

Die ”Cellular Telecommunications and Internet Association”, beter bekend as CTIA, het sterk gereageer op ’n onlangse verslag van die Verenigde Nasies waarin bewer is dat selfone kanker kan veroorsaak.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie het onlangs ’n verslag vrygestel waarin dit gestel is dat uitstraling van selfone moontlik kanker kan veroorsaak. Dit is gesê dat, gebaseer op die VN se Internasionale Agentskap se werkgroep vir kankernavorsing en met die hersiening van portuurhersiene studies, dit gevind is dat daar tog getuienis bestaan dat daar ’n toename is in die voorkoms van Glioma- en akoestiese Neuromabreinkankers by gebruikers van mobiele fone. As gevolg hiervan lys die agentskap mobiele fone as ’n karsinogeniese gevaar.

Die CTIA het nou ’n wydgebaseerde weerlegging uitgereik wat begin deur vorige studies deur die VS Federale Kommunikasiekommissie te kwoteer waaarin tot die gevolgtrekking gekom word dat daar geen wetenskaplike getuienis is wat bewys dat die gebruik van draadlose telefone tot enige vorm van kanker kan lei nie. Die sellulêre drukgroep kwoteer ook die “Food and Drug Administration” wat sou gesê het dat die gewig van wetenskaplike getuienis nie sellulêre telefone met enige gesondheidsprobleme verbind nie.

In sy weerleggingsbombardement het die ”Cellular Telecommunications and Internet Association” ook daarop gewys dat die Wêreldgesondheidsorganisasie geen poging aangewend het om sy eie wetenskaplike studie van selfoongebruik onderneem het nie, hulle het slegs vorige studies, wat oor jare deur ander ondersoekers gemaak gemaak is, deurgekyk om tot hulle gevolgtrekking te kom.

Voor sy aankondiging op Dinsdag 31 Mei, het die Wêreldgesondheidsorganisasie gebruikers verseker dat geen nadelige gesondheidsgevolge van sellulêre telefone bevestig is nie. Nou is die WHO en die CTIA aan teenoorgestelde kante van ’n oorlog oor publieke inligtingswerk oor die steeds onbekende gevolge uitstralings van sellulêre telefone op die menslike liggaam.

Dus, is dit raadsaam om jou BHF/UHF draagbare send/ontvanger te gebruik? Ja,! Dit is heelwaarskynlik veiliger as om die straat oor te steek.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteit op lae tot gematigde vlakke sal wees. Tans is daar twee groot sonvlekgroepe sigbaar, 1 234 in die Suide en 1 236 in die Noorde. Beide produseer C-klas fakkels en daar is ook die moontlikheid van 'n M-klas uitbarsting. 'n Derde sonvlekgroep sal binnekort sigbaar wees en was ook die bron van 'n C-klas fakkel op Donderdag. Vir diegene wat hulle eie frekwensies voorspel, is die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week sowat 40.

Met die verandering van die seisoen en die laer sonaktiwiteit is 20 m die beste keuse vir DX gevolg deur 30 m en sporadiese 15 m-openinge kan ook voorkom.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

25 Junie – Wes-Rand snuffelmark beginnende om 12:00 in Krotonstraat, Weltevredenpark.

SARLNUUS nooi klubs en individue om nuusbrokkies wat radioamateurs en kortgolfluisteraars sal geniet, in te stuur. Stuur dit - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans, na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateurradio VANDAG wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 750 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio TODAY', gaan af op die groen kolom en klik op 'LISTEN ON THE WEB'. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 18:30 SAT op 3 230 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n bulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel deur George, ZS6NE.

Dankie dat u geluister het, 73.
/EX


Ten einde u inskrywing op hierdie subskripsielys te verander of dit daarvan te verwyder, gaan na www.sarl.org.za/members/admin/maildat.asp.
members/admin/maildat.asp.


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003